OOS-RAND-STREEK
OOS-RAND-STREEK
Solidariteit Helpende Hand Oos-Rand-streek bou saam aan 'n hoopvolle toekoms
By Solidariteit Helpende Hand Oos-Rand-streek glo ons vas dat gemeenskapsontwikkeling by die hart begin – met mense wat omgee, uitreik, opbou en bemagtig. Solidariteit Helpende Hand werk daagliks daaraan om mense te help om op hul eie voete te staan en gemeenskappe sterk en selfstandig te maak.
Ons visie
Ons sien 'n toekoms waarin elke gemeenskap as 'n plek van hoop en ontwikkeling funksioneer, waar elke mens 'n kans kry om te groei en te floreer.
Ons missie
Deur volhoubare projekte, opleiding en netwerkvorming wil ons mense bemagtig sodat hulle nie net ondersteuning ontvang nie, maar self deel word van die oplossing. Die uiteindelike doel is 'n vrye, veilige en voorspoedige Afrikaner-kultuurgemeenskap.
Wat doen Helpende Hand Oos-Rand-streek?
Ons versterk ons bestaande netwerke. Ons werk reeds saam met verskeie kerke, skole, tehuise vir bejaardes, organisasies vir mense met gestremdhede en ander welsynsinstellings. Nou wil ons ook graag groot besighede betrek – ondernemings wat wil sien dat die Oos-Rand weer herrys tot sy vergane glorie. Saam kan ons 'n veel groter verskil maak.
Ons 10 takke reik uit na bejaardes, kinders, gesinne en persone met gestremdhede. Ons leef ons roeping van gemeenskapsontwikkeling daagliks uit met die volgende praktiese projekte wat lewens verander:
- Voedselverspreiding en noodhulp aan gesinne in 'n krisis
- Mediese vir bejaardes en siekes
- Skryfbehoeftes, klere en kos vir kinders wie se gesinne dit nie kan bekostig nie
- Besoeke en sorg aan bejaardes – geselskap, kos en aandag
- Vroue- en gesinsprojekte wat bande smee en mense bemagtig
- Wol- en handwerkprojekte deur bejaardes vir kinders
- Kompetisies om meer hande te betrek en ons lidmaattal te laat groei
- Werkskeppingsinisiatiewe wat mense help om 'n inkomste te verdien en hul vaardighede te gebruik
Ons fokus
Ons bou aan sterk strukture wat volhoubare oplossings bied – opleiding, raad, toegang tot werk en ondersteuning wat mense help om selfonderhoudend te word. Dis nie net hulp nie – dis hoop, herstel en herlewing.
Hoe kan jy help?
- Word 'n ondersteuner en maak projekte moontlik.
- Sluit aan as vrywilliger – jou tyd en talente maak 'n verskil.
- Help om 'n nuwe tak te vestig, veral in gebiede waar dit broodnodig is.
Elke hand help. Elke bydrae tel. Elke mens verdien 'n kans.
Ontmoet ons personeel
Lees meer...
In die besige strate aan die Oos-Rand is daar ‘n sagte maar standvastige teenwoordigheid – Mariolette Vorster, Solidariteit Helpende Hand Oos-Rand se streeksorganiseerder. Sy is nie een wat die kollig opsoek nie, maar haar dade spreek duideliker as enige woorde. Waar daar nood is, is Mariolette se voetspore al lank voor joune daar.
Haar dag begin vroeg met ‘n lys name – kinders wat honger is, bejaardes wat eensaam is, gesinne wat hoop nodig het. Maar sy raak nie oorweldig deur die omvang van die nood nie. Vir haar is elke naam ‘n mens – ‘n kind, ‘n ouma, ‘n hart wat klop en liefde nodig het.
Mariolette besit ‘n besonderse gawe om mense te mobiliseer. Waar ander struikelblokke sien, sien sy geleenthede. Sy weet hoe om elke rand te rek en elke skenking in iets kosbaars te omskep. Onder haar leiding het die Oos-Rand-streek gegroei tot ‘n lewendige, meelewende netwerk mense wat gee – nie uit oorvloed nie, maar uit opregte oortuiging.
Die armes lê haar besonder na aan die hart. Sy gee sonder verwagting, sonder voorbehoud. Of dit ‘n warm bord kos is, ‘n noodsaaklike stuk mediese toerusting, ‘n dak oor iemand se kop, of klere vir ‘n kind, Mariolette help waar sy kan. En sy doen dit met ‘n nederige glimlag en ‘n diep liefde vir haar gemeenskap.
Indien die gemeenskap enige kos- of persoonlike produkte wil skenk, kan hulle Mariolette direk kontak by 067 871 0135.
Mariolette is meer as net ‘n organiseerder. Sy is ‘n gemeenskapsbouer, ‘n hoopdraer, en ‘n lewende voorbeeld van wat dit beteken om ‘n lewe toegewy aan dienslewering te lei. In ‘n wêreld wat dikwels koud en haastig voel, herinner sy ons daaraan: liefde het arms, en soms dra dit die naam Mariolette Vorster.
Lees meer...
Nadine Landman is die Oos-Rand-streek se nuwe maatskaplike werker by Solidariteit Helpende Hand. Sy het ’n diep liefde vir mense en ’n groot passie om ’n verskil in gemeenskappe te maak. Met meer as vyf jaar se ervaring in maatskaplike werk, veral op die gebied van kinderwelsyn, gesinsdienste en geestesgesondheid, bring sy waardevolle kennis, empatie en praktiese ervaring na die streek.
Sy het haar BA-graad in Maatskaplike Werk aan UNISA voltooi en is tans besig om haar studies verder uit te brei in forensiese wetenskap en tegnologie. Deur haar werk het Nadine reeds uitgebreide ervaring opgedoen in gevallebestuur, krisisintervensie, berading, gemeenskapsontwikkeling en statutêre dienste soos pleegsorgondersoeke en gesinshereniging. Sy het ook ervaring in samewerking met skole, waar sy individuele en groepsberading aan kinders en jongmense bied wat emosionele, gedrags- of akademiese uitdagings ervaar.
Nadine is bekend vir haar empatiese benadering en haar vermoë om sterk verhoudings met individue, gesinne en gemeenskappe te bou. Sy glo dat elke mens die reg het op ondersteuning, hoop en nuwe geleenthede. Dit is juis hierdie oortuiging wat haar gemotiveer het om by Helpende Hand aan te sluit, waar sy saam met die Oos-Rand-gemeenskap sal werk om volhoubare ondersteuning en werklike verandering te bring.
Met haar passie vir diens, haar sterk professionele agtergrond en haar hart vir mense sien Nadine daarna uit om ’n betekenisvolle bydrae in die streek te lewer.
Lees meer...
Sonet van der Merwe – Streeks- administratiewe beampte: Oos-Rand
Die streeks- administratiewe beampte speel 'n ondersteunende rol deur te verseker dat alle administratiewe prosesse en take doeltreffend en georganiseerd verloop. Sy is die administratiewe ruggraat wat help verseker dat projekte, vergaderings en streeksaktiwiteite glad verloop.
Sonet werk baie nou saam met die streekspan, insluitend Mariolette (streeksorganiseerder), Nadine (maatskaplike werker) en al die Oos-Randse takvoorsitters. Sy ondersteun die span vanuit die Helpende Hand Hoofkantoor in Irene.
Met haar noukeurigheid, organisasie en samewerking help Sonet om te verseker dat kommunikasie duidelik is en dat administratiewe sake betyds afgehandel word, sodat die streek se werk in die gemeenskap suksesvol kan voortgaan.
Lees meer...
Sentrumbestuurder: Solidariteit Helpende Hand Ons Plek Kempton Park-kleuterskool en
-naskoolsentrum
In die hart van Kempton Park, waar klein lewentjies daagliks gevorm word, is daar 'n vrou met 'n sagte hart en 'n vaste hand – Esté Cilliers, sentrumbestuurder van Solidariteit Helpende Hand Ons Plek Kempton Park-kleuterskool en naskoolsentrum.
Esté se pad met Helpende Hand het reeds in 2022 begin toe sy diep geraak en geïnspireer is deur die organisasie se werk. In November 2024 het sy haar roeping gevolg en by Ons Plek Kempton Park aangesluit, aanvanklik as aflossentrumbestuurder, maar kort daarna permanent. Deesdae leef sy daardie roeping elke dag uit.
Vir Esté is haar werk nie net 'n beroep nie – dit is 'n roepingstaak. Sy glo dat haar lewenspad haar voorberei het vir hierdie spesifieke plek waar sy deel mag wees van iets groter: om kinders op te hef, hoop te bou en 'n beter toekoms moontlik te maak.
By Solidariteit Helpende Hand se Ons Plek Kempton Park is sy meer as net 'n sentrumbestuurder. Sy is 'n mamma vir die kinders, ondersteuning vir die ouers, en 'n anker vir haar span en gemeenskap. Sy bring mense bymekaar en bou brûe, want sy glo dat ware verandering plaasvind wanneer mense hande vat en saam bou.
Esté se benadering is gegrond in geloof en waardes. Sy glo dissipline wat met liefde en beginsels toegepas word, skep vir kinders 'n veilige hawe waar hulle kan leer en floreer. By Ons Plek Kempton Park gaan dit oor meer as net opvoeding – dit gaan oor die voeding van liggaam, verstand en gees.
Die gemeenskap speel 'n sentrale rol. Esté beskryf Ons Plek Kempton Park as 'n lewende weergawe van die bekende "klipsop"-verhaal – elkeen dra iets by, en saam maak ons 'n groter verskil. Met ons Rots as grondslag en 'n kultuur van uitnemendheid, word daar 'n ruimte geskep waar mense nader kom, betrokke raak en saam bou aan iets betekenisvols.
Esté is 'n passievolle mens met 'n diep liefde vir haar taal en kultuur. Hierdie passie word sigbaar in alles wat sy doen – in haar werk, haar mense en die manier waarop sy met oorgawe bou aan 'n plek waar kinders en die gemeenskap kan floreer.
Vir Esté begin alles by geloof. Dit is haar kompas, haar krag en haar anker in alles wat sy doen.
Kontak gerus vir Esté indien jy betrokke wil raak of ondersteuning bied:
078 161 1655 | [email protected]
Oos-Rand-takke
Alberton-tak
Adri Olckers – Voorsitter
Adri Olckers is die voorsitter van Solidariteit Helpende Hand Alberton-tak en 'n toegewyde gemeenskapsleier met 'n hart vir diens. Sy lei nederig en met deernis en integriteit, en sy inspireer haar span met haar voorbeeld eerder as haar woorde. Adri glo dat samewerking, omgee en volgehoue betrokkenheid die sleutel tot 'n sterker gemeenskap is. Sy is passievol daaroor om mense te bemagtig, hoop te bring en projekte te ondersteun wat 'n blywende verskil in die Alberton-gemeenskap maak.
Kontakbesonderhede
📞Adri Olckers: 071 556 0723
Nico Olckers – Ere-ondersteuner
Nico Olckers is 'n gewaardeerde taklid en ere-ondersteuner van Solidariteit Helpende Hand se Alberton-tak. Ten spyte van persoonlike uitdagings is hy altyd bereid om te help waar hy kan en hy doen dit met 'n positiewe gesindheid en 'n opregte hart. Sy vriendelikheid, betroubaarheid en gewilligheid om ander te ondersteun maak hom 'n geliefde deel van die span. Nico bewys dat ware diensbaarheid nie van omstandighede afhang nie, maar van 'n hart wat bereid is om te dien.
Kontakbesonderhede
📞 Nico Olckers: 083 704 2102
Edenvale-tak
Jan Marais – Voorsitter
Jan Marais is die voorsitter van Solidariteit Helpende Hand Edenvale-tak en het die uitdaging aanvaar om hierdie nuwe tak te help vestig en uit te bou. Hy werk as verkoopsverteenwoordiger by 'n Ons Winkel en maak, ten spyte van sy besige werkslewe, steeds tyd om sy gemeenskap te dien. Jan is geskei en sy trots en vreugde is sy vierpootkind, Wendy. In sy vrye tyd geniet hy hekelwerk.
Sy betrokkenheid by Helpende Hand spruit uit sy persoonlike lewensreis. Nadat hy sy lewe verander het en reeds 13 jaar nugter is, het hy besluit om iets terug te gee en ander te wys dat verandering moontlik is. Hy glo dit is elke mens se plig om te help waar jy kan en sien sy diens as 'n manier om God se roeping uit te leef.
Die behoeftes van hawelose mense lê hom besonder na aan die hart. Hy glo dat elke mens, ongeag hul omstandighede of foute uit die verlede, met waardigheid en respek behandel moet word. Die Edenvale-tak is dalk klein, maar volgens Jan funksioneer hulle soos 'n familie wat mekaar ondersteun en altyd gereed is om te help.
Een van die projekte waarop hy die trotsste is, is die tak se Moedersdagprojek, omdat dit 'n geleentheid bied om moeders te eer en te bederf vir alles wat hulle vir hul gesinne beteken. Sy boodskap aan voornemende vrywilligers is eenvoudig: "Maak nie saak hoe klein die verskil is wat jy dink jy maak nie, jy maak steeds 'n verskil, al is dit net in een persoon se lewe."
Kontakbesonderhede
📞 Jan Marais: 064 429 7755
Chris Bossart – Ondervoorsitter en eienaar van Ons Winkel Edenvale
Chris Bossart is die ondervoorsitter van Solidariteit Helpende Hand se Edenvale-tak en die eienaar van Ons Winkel Edenvale. Hy speel 'n belangrike rol in die ondersteuning van die Oos-Rand-gemeenskap deur sy betrokkenheid by die tak sowel as die bestuur van die winkel. Met Ons Winkel Edenvale skep hy nie net werksgeleenthede nie, maar help hy ook om fondse te genereer wat gemeenskapsprojekte, studiegeleenthede en hulpverlening moontlik maak. Sy passie vir diensbaarheid, sy liefde vir mense en sy geloof dryf hom om daagliks 'n verskil in ander se lewens te maak.
Chris is 'n Afrikaans-onderwyser wat matrikulante met toewyding voorberei vir hul toekoms. Hy is gelukkig getroud met Mariolette Bossart, streeksorganiseerder van Solidariteit Helpende Hand Oos-Rand-streek. Hy geniet dit om tyd in die natuur deur te bring saam met sy vrou en familie, veral in die wildtuin, en gholf is een van sy grootste stokperdjies.
Sy betrokkenheid by Solidariteit Helpende Hand het begin toe Mariolette as streeksorganiseerder van die Oos-Rand aangestel is. Deur haar werk het hy by talle projekte en streeksvergaderings betrokke geraak waar hy eerstehands die impak van Helpende Hand se gemeenskapswerk beleef het. Dit was tydens een van hierdie vergaderings wat hy kennis gemaak het met die Ons Winkel-konsep. Die visie het hom so aangegryp dat hy besluit het om aansoek te doen en so het hy die eienaar van Ons Winkel Edenvale geword.
Vir Chris beteken gemeenskapsdiens om geleenthede vir ander te skep. Hy is trots daarop dat die winkel bydra tot studiebeurse vir jongmense, gemeenskapsprojekte ondersteun en terselfdertyd werksgeleenthede aan twee persone bied. Wanneer daar ook al 'n behoefte in die Oos-Rand-streek ontstaan, skenk hy met graagte klere en huishoudelike items vanuit die winkel om mense in nood by te staan.
Kinders en senior burgers lê hom besonder na aan die hart. Hy glo dat kinders beskerm en bemagtig moet word, terwyl bejaardes met waardigheid, respek en liefde behandel behoort te word. Volgens Chris is die Edenvale-tak dalk nog klein en nuut, maar die span bestaan uit positiewe mense wat glo waar daar 'n wil is, sal daar altyd 'n weg wees.
Sy geloof is die dryfkrag agter alles wat hy doen. Hy glo dit is 'n Godgegewe opdrag om jou naaste lief te hê soos jouself, en daarom sien hy diens aan ander as 'n voorreg.
Chris se boodskap aan voornemende vrywilligers is dat elke bydrae saak maak. Dit maak nie saak hoeveel tyd of hulp jy kan gee nie – elke daad van omgee word opreg waardeer en bring vreugde, nie net vir die ontvanger nie, maar ook vir die persoon wat dien.
Ten slotte doen Chris, as eienaar van Ons Winkel Edenvale, 'n beroep op die publiek om deel te word van hierdie droom. Indien jy klere, meubels, huishoudelike items of enige ander bruikbare goedere het wat nie meer gebruik word nie, oorweeg dit om dit aan Ons Winkel Edenvale te skenk. Elke skenking help om fondse te genereer waarmee Solidariteit Helpende Hand mense in nood kan ondersteun, gemeenskappe kan ophef en hoop vir die toekoms kan skep.
Kontakbesonderhede
📞 Chris Bossart: 081 437 5043
Benoni-tak
Elda van der Merwe – Waarnemende voorsitter
Elda van der Merwe dien as waarnemende voorsitter van Solidariteit Helpende Hand Benoni-tak en lei die span met toewyding, visie en 'n opregte hart vir gemeenskapsdiens. Sy glo daarin om mense te bemagtig, hul menswaardigheid te herstel en metpraktiese hulp 'n blywende verskil in die gemeenskap te maak. Haar passie vir diensbaarheid en haar vermoë om mense saam te snoer maak haar 'n gewaardeerde leier in die Benoni-gemeenskap.
Elda is gelukkig getroud met haar elektriese ingenieur en hulle vier volgende Paasfees hul 40ste huweliksherdenking. Hulle is die trotse ouers van twee seuns en 'n dogter. Hoewel sy en haar man altyd lief was vir stap en kamp, het sy gesondheid ná 'n beroerte in 2024 hul leefstyl verander. Sy geniet steeds lees, kuier, kook en bak en glo daarin om die mooi in elke dag raak te sien.
Haar betrokkenheid by Solidariteit Helpende Hand het begin toe sy as taalpraktisyn vir die organisasie begin werk het. Sy het gou besef dat Helpende Hand se waardes en missie perfek aansluit by haar eie lewensuitkyk. Vir haar is dit 'n Goddelike roeping om iets vir ander mense te beteken. Sy glo dat wanneer ons ons tyd, talente en liefde met ander deel, ons hulle toerus om op hul beurt weer 'n verskil in iemand anders se lewe te maak.
Vir Elda beteken gemeenskapsdiens om mense raak te sien, hulle met waardigheid te behandel en hulle te help om hul selftrots te herwin sodat hulle weer selfstandig kan vorentoe beweeg.
Hoewel die Benoni-tak nog relatief nuut is, is sy trots op die ongelooflike groei en betrokkenheid wat reeds bereik is. Binne minder as ses maande het die tak by verskeie nasionale en streeksprojekte aangesluit, verskeie eie projekte suksesvol afgehandel en 'n sterk grondslag gelê vir verdere groei. Hierdie momentum getuig van 'n span wat bereid is om hard te werk en saam 'n verskil te maak.
Kinders, bejaardes, mense met gestremdhede en gesinne wat swaarkry, lê haar besonder na aan die hart. Daarom bou die tak doelbewus netwerke met skole, kerke, kinderhuise, tehuise vir bejaardes en ander organisasies om nog meer mense te bereik en te ondersteun.
Volgens Elda word die Benoni-tak gekenmerk deur toegewyde spanlede wat, ten spyte van voltydse beroepe, steeds hul tyd en talente beskikbaar stel om hul gemeenskap te dien. Haar grootste motivering is die wete dat sy besig is met die werk waartoe God haar geroep het.
Haar boodskap aan voornemende vrywilligers is eenvoudig: Kom stap 'n pad saam met ons. Beleef die vreugde daarvan om 'n verskil in ander se lewens te maak, en ontdek hoe diens aan jou medemens ook jou eie lewe verryk.
Kontakbesonderhede
📞 Elda van der Merwe: 082 925 5108
Cecilia Holm – Ondervoorsitter
Cecilia Holm dien as ondervoorsitter van Solidariteit Helpende Hand se Boksburg-tak en speel 'n belangrike rol in die sukses van die span. Sy ondersteun die voorsitter met toewyding en help om projekte deeglik te beplan en doeltreffend uit te voer. Haar praktiese ingesteldheid, betroubaarheid en bereidwilligheid om altyd te help, maak haar 'n onmisbare deel van die tak. Cecilia se opregte omgee vir mense en haar passie vir gemeenskapsdiens dra by tot 'n blywende verskil in die gemeenskap.
Cecilia is 'n kantoorbestuurder, 'n liefdevolle eggenote en die trotse ma van twee pragtige seuns. Sy is 'n kreatiewe en kunstige mens wat dit geniet om met haar hande te werk. Houtwerk, handwerk en sang is van haar grootste stokperdjies en weerspieël haar liefde om iets moois vir ander te skep.
Sy het by Solidariteit Helpende Hand betrokke geraak omdat sy 'n verskil in ander se lewens wil maak. Haar grootste begeerte is om hoop te bring aan mense wat deur moeilike tye gaan en hulle te wys dat daar altyd iemand is wat omgee. Sy deel graag haar liefde en deernis met ander, veral met kinders en bejaardes wat haar besonder na aan die hart lê.
Vir Cecilia beteken gemeenskapsdiens om alles met liefde en opregte omgee te doen. Sy glo dit is belangrik om mense se omstandighede te verstaan, na hulle te luister en saam oplossings te vind wat hul lewens kan verbeter.
Van die projekte waarop sy die trotsste is, is die Paas- en Moedersdagprojekte. Elke geskenkie, bemoedigende boodskap en handgemaakte item word met groot liefde voorberei. Om die blydskap, dankbaarheid en hoop op mense se gesigte te sien, herinner haar telkens waarom sy haar tyd en energie gee.
Die nood van kinders wat honger is, mishandel word of saam met hul ouers op straat leef, raak haar diep. Net so lê die eensaamheid van bejaardes haar na aan die hart. Volgens Cecilia word die Boksburg-tak gekenmerk deur sterk spanwerk, opregte omgee en handgemaakte projekte wat met liefde voorberei word, soos handeroom, kruise en kospakkies.
Haar boodskap aan voornemende vrywilligers is eenvoudig: Saam kan ons 'n verskil maak in die lewens van ander. Elke kind en elke bejaarde verdien liefde, omgee en hoop op 'n beter môre.
Kontakbesonderhede
📞 Cecilia Holm: 071 609 4958
Germiston-tak
Schantel Koekemoer – Voorsitter
Schantel Koekemoer is die voorsitter van Solidariteit Helpende Hand Germiston-tak en dien haar gemeenskap met passie, deernis en deursettingsvermoë. Sy is 'n onderwyser, is al 24 jaar gelukkig getroud en is die trotse ma van vyf kinders en ouma van drie pragtige kleinkinders. In haar vrye tyd geniet sy enige vorm van kunsaktiwiteit.
Schantel het by Helpende Hand betrokke geraak omdat dwelmmisbruik 'n groot uitdaging in haar gemeenskap is. Sy wil graag help om jongmense te lei sodat hulle nie in dié strik trap nie en glo dat hoop, liefde en geloof mense se omstandighede kan verander.
Vir haar beteken gemeenskapsdiens om elke medemens met waardigheid en respek te behandel, nooit op iemand neer te sien nie en deur haar optrede Jesus se liefde uit te leef. Bejaardes en kinders lê haar besonder na aan die hart, omdat hulle weerloos is en dikwels nie vir hulself kan opstaan nie.
Die Germiston-tak is dalk klein, maar beskik oor groot omgee-harte en 'n span wat altyd bereid is om te help. Schantel is trots op elke projek wat die lewens van bejaardes en kinders verryk en 'n positiewe verskil in die gemeenskap maak.
Haar boodskap aan elke voornemende vrywilliger is eenvoudig: "Steek jou hand op en doen die werk waarvoor God jou geroep het."
Kontakbesonderhede
📞 Schantel Koekemoer: 084 774 6364
Yolanda Hall – Ondervoorsitter
Yolanda Hall dien as ondervoorsitter van Solidariteit Helpende Hand se Germiston-tak en is 'n betroubare steunpilaar vir die voorsitter en span. Sy speel 'n belangrike rol in die administrasie en help om die tak se werksaamhede georganiseerd en doeltreffend te bestuur. Haar noukeurigheid, verantwoordelikheid en gewilligheid om altyd ondersteuning te bied, maak haar 'n onmisbare deel van die tak. Yolanda se diensbare ingesteldheid dra daagliks by tot die sukses en groei van die Germiston-tak.
Yolanda is 53 jaar oud en werk as 'n ontleder. Sy is 'n toegewyde ma, 'n gelowige vrou en iemand wat opreg omgee vir die mense om haar. Sy glo dat elke persoon met respek, deernis en liefde behandel moet word en leef hierdie waardes daagliks uit in haar gemeenskap.
Sy het by Solidariteit Helpende Hand betrokke geraak omdat sy glo elke mens verdien die geleentheid om hoop, ondersteuning en omgee te ervaar. Vir haar is gemeenskapsdiens 'n manier om God se liefde sigbaar te maak deur ander prakties te dien en 'n verskil in hul lewens te maak.
Yolanda is trots op elke projek waaraan die Germiston-tak as span kon saamwerk om mense in nood te ondersteun. Een projek wat vir haar besonder uitstaan, is die bederfdag vir behoeftige dames. Die geleentheid het nie net praktiese ondersteuning gebied nie, maar ook die vroue herinner dat hulle waardevol is, raakgesien word en met waardigheid behandel behoort te word.
Gesinne en kinders lê haar besonder na aan die hart. Sy glo as ons in kinders belê en gesinne ondersteun, lê ons die grondslag vir sterker gemeenskappe en 'n beter toekoms vir die volgende geslag.
Volgens Yolanda word die Germiston-tak gekenmerk deur uitstekende spanwerk, opregte omgee en vrywilligers wat bereid is om hul tyd, talente en harte beskikbaar te stel vir diens aan ander. Die dankbaarheid in iemand se oë wanneer hulle hulp ontvang, motiveer haar om, ten spyte van haar besige lewe, steeds betrokke te bly.
Haar boodskap aan voornemende vrywilligers is eenvoudig: Moenie wag totdat jy dink jy het genoeg tyd of genoeg om te gee nie. Begin waar jy is, met wat jy het. Selfs die kleinste daad van liefde kan 'n groot verskil in iemand se lewe maak.
Kontakbesonderhede
📞 Yolanda Hall: 071 751 9164
Nigel-tak
Sandra Taljaard – Waarnemende voorsitter
Sandra Taljaard dien as waarnemende voorsitter van Solidariteit Helpende Hand Nigel-tak totdat die pos permanent gevul word. Sy is die eienaar van Style Challenge International en 'n bekende stylkenner met 'n passie vir die ontwikkeling van mense. Sandra vervaardig, skryf en bied ook die Oos-Rand-streek se FAK-produksies aan, waarmee sy vreugde, hoop en inspirasie na talle gemeenskappe bring. Haar kreatiwiteit, toewyding en diensbare hart maak haar 'n gewaardeerde ambassadeur vir Helpende Hand.
Sandra is 'n internasionaal geakkrediteerde voorkoms-, mode- en stylkonsultant, stilis en motiveringspreker met 'n passie daarvoor om mense te help om hul unieke identiteit en selfvertroue te ontdek. Sy het opleiding aan verskeie internasionaal erkende instellings ontvang, waaronder die London College of Fashion, Colour Me Beautiful in Londen, ICPF in New York, asook instellings in Duitsland, Italië, Brittanje en Suid-Afrika. Daarbenewens het sy opleiding in toneelspel en drama en beskik sy oor 'n diploma in Kommunikasiekunde van die Noordwes-Universiteit. Sy is die trotse ma van een dogter en geniet dit om in haar vrye tyd te stap, te skilder en kreatief besig te wees.
Sandra het by Solidariteit Helpende Hand betrokke geraak omdat sy 'n opregte begeerte het om 'n verskil in mense se lewens te maak. Vir haar beteken gemeenskapsdiens om ander met liefde, hoop en deernis te dien en mense te help om weer waarde, vreugde en moed vir die toekoms te vind.
Van die projekte waarop sy die trotsste is, is haar produksies "Jonk van Gees Fees" en "Boervrou en Haar Volk". Met hierdie projekte bring sy en haar span tyd saam met inwoners van aftreeoorde deur en skep hulle betekenisvolle oomblikke vol vreugde, lag en bemoediging. Vir Sandra is dit 'n groot voorreg om met musiek, stories en saamkuier hoop in seniors se lewens te bring.
Kinders, bejaardes en gesinne wat deur moeilike omstandighede gaan, lê haar besonder na aan die hart. Sy glo daarin om mense met deernis, opregte omgee en praktiese ondersteuning by te staan, sodat hulle weer hoop vir die toekoms kan ervaar.
Volgens Sandra word die Nigel-tak gekenmerk deur opregte omgee, deernis en 'n span wat bereid is om hul tyd en talente in diens van ander te stel. Haar grootste motivering is die geleentheid om hoop, ondersteuning en liefde te bring aan dié wat dit die nodigste het.
Haar boodskap aan voornemende vrywilligers is: Verryk jou eie lewe deur jou ware doel en potensiaal te ontdek. Wanneer jy jou tyd en talente gebruik om ander te dien, ontdek jy hoe groot die verskil is wat een mens kan maak.
Kontakbesonderhede
📞 Sandra Taljaard: 082 888 2731
Boksburg-tak
Annerie du Pisanie – Voorsitter
Annerie du Pisanie is die voorsitter van Solidariteit Helpende Hand se Boksburg-tak en dien haar gemeenskap met groot toewyding en entoesiasme. Sy is altyd bereid om in te spring waar hulp nodig is, nie net binne haar tak nie, maar ook in die breër Oos-Rand-streek. Haar grootste passie is die ondersteuning van bejaardes en kinders, en sy glo dat klein dade van omgee 'n groot verskil maak. Haar diensbare hart, betroubaarheid en leierskap maak haar 'n gewaardeerde leier.
Annerie is 'n getroude vrou en die trotse ma van 'n jong dogtertjie wat nog by die huis is, asook 'n handvol kinders wat reeds groot is. Sy is lief vir kinders, geniet dit om sepies te kyk en is passievol daaroor om 'n aktiewe rol in haar gemeenskap te speel.
Sy het by Solidariteit Helpende Hand betrokke geraak omdat sy mense uit moeilike omstandighede wil help en wil bydra tot 'n beter toekoms vir die jeug. Vir haar beteken gemeenskapsdiens om Christus se voorbeeld te volg deur haar gemeenskap met geduld, liefde en vrygewigheid te dien.
Die ondersteuning van bejaardes lê haar besonder na aan die hart. Sy glo dat hulle moet weet daar is steeds mense wat vir hulle omgee en hulle liefhet. Sy het ook 'n groot passie daarvoor om minderbevoorregte kinders by te staan en hulle hoop vir die toekoms te gee.
Volgens Annerie word die Boksburg-tak gekenmerk deur sterk spanwerk en opregte omgee vir mense. Dit is juis die dankbaarheid en opregte glimlagte van die bejaardes wat haar motiveer om aan te hou. Sy glo dat as ons op hulle sou opgee, baie van hulle niemand anders sou hê om hulle by te staan nie. Om die vreugde op hul gesigte te sien wanneer hulle iets ontvang, raak haar diep en herinner haar telkens waarom sy haar tyd gee.
Haar boodskap aan voornemende vrywilligers is eenvoudig: Doen alles uit die liefde van jou hart. Dit maak nie saak hoe klein of groot jou bydrae is nie; solank dit met liefde en opregte omgee gedoen word, maak dit 'n blywende verskil.
Kontakbesonderhede
📞 Annerie du Pisanie: 083 990 3624
Heidelberg-tak
Patricia Meyer – Voorsitter
Patricia Meyer is die voorsitter van Solidariteit Helpende Hand se Heidelberg-tak en dien haar gemeenskap met passie, toewyding en 'n hart vir mense. Benewens haar betrokkenheid by Ons Winkel Heidelberg is sy aktief betrokke by projekte wat die dorp mooier en sterker maak. Haar besondere passie is die ondersteuning van bejaardes en kinders. Patricia glo dat gemeenskappe floreer wanneer mense saamwerk, omgee en mekaar ondersteun om hoop en nuwe geleenthede te skep.
Patricia is al byna 47 jaar met Hans Meyer getroud en is die trotse ma van drie seuns en 'n aangenome dogter. Sy is ook ouma van nege kleinkinders tussen die ouderdomme van sewe en vier-en-twintig jaar. Nadat sy medies afgetree het, het sy haar passie vir gemeenskapsdiens verder uitgeleef. Wanneer sy tyd het, geniet sy naaldwerk en masjienborduurwerk.
Sy het by Solidariteit Helpende Hand betrokke geraak omdat sy 'n verskil in mense se lewens wou maak. Nadat sy binne een jaar verskeie lewensveranderende tragedies beleef het, het sy besluit om haar energie te gebruik om hoop en ondersteuning aan ander te bied.
Vir Patricia beteken gemeenskapsdiens om saam te staan, te help waar daar nood is en Heidelberg met liefde te dien. Dit beteken om prakties hand by te sit, hoop te bring en te wys dat ons vir mekaar omgee.
Een van haar grootste vreugdes is dat die tak gehelp het om skoolpligtige kinders terug in die skool te kry en ses studente te ondersteun om verder te studeer. Sy glo dat opvoeding die sleutel is om die armoedekringloop te verbreek. Die armoede en eensaamheid van bejaardes lê na aan haar hart.
Volgens Patricia word die Heidelberg-tak gekenmerk deur sterk spanwerk en mense wat nooit terugdeins vir harde werk nie. Of hulle nou 'n straathoek skoonmaak of 'n ete vir bejaardes voorberei, alles word met vreugde en toewyding gedoen.
Ten spyte van haar gesondheidsuitdagings en fisiese beperkings, motiveer die dankbaarheid van mense haar om aan te hou. 'n Bedankingsbrief van 'n matriekdogter of 'n drukkie van 'n bejaarde wat vra dat sy weer moet kom kuier, herinner haar telkens dat elke opoffering die moeite werd is.
Haar raad aan nuwe vrywilligers is om klein te begin, want elke hand maak 'n verskil. Dien met liefde, maar wees ook wys en stel gesonde grense, sodat jy mense volhoubaar kan ondersteun sonder om jouself uit te put.
Kontakbesonderhede
📞 Patricia Meyer: 083 305 3577
Annemarie van der Sandt – Ondervoorsitter
Annemarie van der Sandt is die ondervoorsitter van Solidariteit Helpende Hand Heidelberg-tak en dien haar gemeenskap met passie, toewyding en 'n opregte hart vir mense. Sy is die voorsitter, Patricia Meyer, se regterhand en 'n onmisbare deel van die Heidelberg-span. Annemarie is altyd bereid om te help waar daar 'n behoefte is en haar besondere passie is die ondersteuning en versorging van bejaardes en kinders.
Annemarie kom uit 'n liefdevolle gesin waar sy van kleins af geleer het om na ander om te sien. Sy is die trotse ma van vier dogters en het nog altyd 'n hart gehad om haar medemens te help. Deur die jare was sy betrokke by die ondersteuning van gesinne in moeilike omstandighede, veral waar voedselnood 'n uitdaging was.
Kinders se welstand lê haar besonder na aan die hart. Sy glo elke kind verdien die geleentheid om skool te gaan, genoeg kos te hê, veilig te wees en met liefde versorg te word. Net so het sy 'n groot passie vir bejaardes wat nie meer alles self kan doen nie. Vir haar gaan dit daaroor om mense te bemoedig, na hulle te luister en praktiese hulp te bied waar sy kan.
Annemarie glo elke mens het 'n storie en dat baie mense swaarkry sonder dat ander daarvan bewus is. Veral die nood van mense wat op straat leef, raak haar diep, omdat sy besef hoeveel pyn en uitdagings agter elkeen van hulle se omstandighede skuil. Sy glo al kan ons nie iemand se verlede verander nie, kan ons wel vandag 'n verskil in hul lewe kan maak deur liefde, omgee en ondersteuning te bied.
Haar lewensuitkyk is eenvoudig: As elkeen bereid is om na sy medemens om te sien en met liefde te dien, kan ons saam 'n beter toekoms vir ons gemeenskappe bou. Sy glo dat selfs die kleinste daad van vriendelikheid hoop kan bring en iemand se lewe positief kan verander.
Kontakbesonderhede
📞 Annemarie van der Sandt: 082 220 4275
Springs-tak
Paul Janse van Vuuren – Voorsitter
Paul Janse van Vuuren is die voorsitter van Solidariteit Helpende Hand Springs-tak en dien sy gemeenskap met oorgawe en 'n hart vir mense. As eienaar van sy eie kleuterskool het hy daagliks 'n besige program, maar hy maak steeds tyd om by gemeenskapsprojekte betrokke te wees. Paul glo daarin dat diensbaarheid, samewerking en omgee die grondslag vorm van 'n sterk gemeenskap. Sy passie vir kinders en sy liefde vir gemeenskapsdiens maak hom 'n gewaardeerde leier.
Kontakbesonderhede
📞 Paul Janse van Vuuren: 064 517 7536
Brakpan-tak
Charmaine van den Heever – Voorsitter
Charmaine van den Heever is die voorsitter van Solidariteit Helpende Hand Brakpan-tak en dien haar gemeenskap met deernis, oorgawe en sterk leierskap. Sy is passievol daaroor om hoop te bring waar dit die nodigste is en is veral betrokke by die ondersteuning van minderbevoorregtes en die versorging van bejaardes. Haar diensbare hart, deursettingsvermoë en opregte omgee maak haar 'n gewaardeerde leier in die Brakpan-gemeenskap.
Charmaine is 'n Beroepsgesondheid- en Veiligheidspraktisyn en werk ook as opleier, assessor en moderator. Sy het onlangs as kapelaan gekwalifiseer. Sy is die trotse ma van twee dogters en ouma van vyf kleinkinders en geniet dit om in haar vrye tyd te lees.
Sy het by Solidariteit Helpende Hand betrokke geraak omdat sy glo dat 'n mens 'n verskil in ander se lewens kan maak. Volgens haar vergeet mense dalk wat jy gesê of gedoen het, maar hulle vergeet nooit hoe jy hulle laat voel het nie. Vir haar beteken gemeenskapsdiens om Jesus se voorbeeld van diensbaarheid te volg en ander met liefde en deernis te dien.
Een van die oomblikke wat haar die meeste geraak het, was toe die Brakpan-tak twee inwoners se 90ste verjaarsdae gevier het. Een oom het gesê: "Jy ken my nie, en tog vier jy my verjaarsdag." Daardie woorde het haar herinner dat klein gebare mense laat voel dat hulle raakgesien, geliefd en waardevol is.
Kinders wat deur hul bejaarde grootouers grootgemaak word omdat hul ouers in verslawing vasgevang is, lê haar besonder na aan die hart. Sy glo opvoeding en opleiding kan die bose kringloop van armoede en verslawing verbreek.
Charmaine beskryf die Brakpan-tak as 'n span wat deur sterk samewerking en opregte omgee gekenmerk word. Haar boodskap aan voornemende vrywilligers is eenvoudig: Moenie die krag van 'n klein gebaar onderskat nie – dit kan iemand se lewe vir altyd verander.
Kontakbesonderhede
📞 Charmaine van den Heever: 081 545 4668
Petro Brits – Ondervoorsitter
Petro Brits dien as ondervoorsitter van Solidariteit Helpende Hand Brakpan-tak en is 'n waardevolle steunpilaar vir die voorsitter en span. Sy is bekend vir haar deeglike beplanning, verantwoordelikheid en oog vir detail. Petro help om projekte volgens Helpende Hand se waardes en riglyne uit te voer en sorg dat alles glad verloop. Haar betroubaarheid, diensbare ingesteldheid en toewyding maak haar 'n gerespekteerde leier wat 'n belangrike bydrae tot die sukses van die tak lewer.
Petro werk as debiteureklerk en is gelukkig getroud. Sy is die trotse ma van vier kinders, ouma van agt kleinkinders en ook die geliefde oumagrootjie van twee agterkleinkinders. Sy geniet dit om te stap, die natuur te ervaar en kuier graag saam met mense. Haar liefde vir mense is een van die grootste dryfkragte in haar lewe.
As 'n ware mense-mens het Petro by Solidariteit Helpende Hand betrokke geraak omdat sy 'n verskil in die lewens van bejaardes en haar gemeenskap wil maak. Sy het 'n besondere passie daarvoor om ouer mense spesiaal te laat voel. Elke maand reël sy verjaarsdagontbyte waar ongeveer 17 bejaardes saam kan kuier en hul spesiale dag vier. Sy help ook om 80ste en 90ste verjaarsdae onvergeetlik te maak. Die dankbaarheid en vreugde op hul gesigte wanneer hulle besef iemand gee om, maak haar hart warm en herinner haar waarom sy hierdie werk doen.
Vir Petro beteken gemeenskapsdiens om mense met liefde, hoop en deernis te dien. Sy glo daarin om prakties hand by te sit en deur klein dade 'n werklike en blywende verskil in ander se lewens te maak.
Die verjaarsdagontbyte vir bejaardes is die projek waarop sy die trotsste is. Hierdie geleenthede skep nie net vreugde nie, maar laat elke persoon voel dat hulle raakgesien, waardeer en geliefd is.
Volgens Petro word die Brakpan-tak gekenmerk deur sterk spanwerk, mense wat hande vat en 'n opregte liefde vir God en hul medemens. Dit is hierdie samewerking wat die tak in staat stel om hoop te bring waar dit die nodigste is.
Haar grootste motivering is om hoop te bring en 'n verskil te maak in die lewens van mense wat dit die nodigste het. Haar boodskap aan voornemende vrywilligers is eenvoudig: Wees passievol. Begin klein, want elke hand maak 'n groot verskil.
Kontakbesonderhede
📞 Petro Brits: 074 908 2526
Kempton Park-tak
Ella Pieterse – Voorsitter
Ella Pieterse is die voorsitter van Solidariteit Helpende Hand Kempton Park-tak en 'n toegewyde gemeenskapsleier met 'n opregte hart vir mense. Haar passie vir diens inspireer vrywilligers om saam hoop te bring waar dit die nodigste is. Onder haar leiding is die tak aktief betrokke by projekte wat kinders, gesinne en bejaardes ondersteun. Ella glo daarin om mense te bemagtig, waardigheid te herstel en met praktiese hulp 'n blywende verskil in die gemeenskap te maak.
Ella is lief vir mense en vind vreugde in die natuur, stap, diere, lees, brei en ander kreatiewe stokperdjies. Sy is die trotse ma van 'n wonderlike seun, skoondogter en kleinkind. Haar hart vir kinders strek egter verder as haar eie gesin – deur die jare het sy ook vier dogters grootgemaak wie se ouers nie meer na hulle kon omsien nie. Hierdie ervaring het haar liefde vir kinders en gesinne in nood net verder versterk.
Sy het by Solidariteit Helpende Hand betrokke geraak omdat sy bejaardes en kinders wil ophef en mense die geleentheid wil gee om 'n beter toekoms vir hulself te skep. Sy is passievol daaroor om seker te maak dat kinders in die skool is en dat jongmense bewus is van geleenthede soos Akademia, Sol-Tech, Werknet en Werkie, wat hulle kan help om hul potensiaal te bereik.
Vir Ella beteken gemeenskapsdiens om ander met hoop en doelgerigtheid op te hef. Sy glo dat elke daad van liefde en ondersteuning iemand se lewe positief kan verander en nuwe moontlikhede kan skep.
Van die projekte waarop sy die trotsste is, is die FAK-kultuurprojek en die tak se 2026 winterprojek – die grootste winterprojek wat die Kempton Park-tak nog aangepak het. Kerke, bejaardes, ouetehuise en die breër gemeenskap het saamgespan om mense in nood te ondersteun. Selfs van die ouer manne het saam gebrei om 'n bydrae te lewer. Deur die jaar heen bied die tak ook voedselprojekte aan waar groot hoeveelhede kos aan bejaardes versprei word.
Volgens Ella word die Kempton Park-tak gekenmerk deur omgee, uitstekende spanwerk en 'n kultuur waar elke vrywilliger aangemoedig word om betrokke te raak. Die span werk daagliks aan projekte wat mense se lewens verbeter en gemeenskappe versterk.
Jesus is die middelpunt van Ella se lewe en haar grootste motivering om aan te hou dien. Sy glo sy doen hierdie werk tot eer van Hom en sien dit as haar roeping om ander met liefde en deernis te help.
Haar boodskap aan voornemende vrywilligers is: Ons het jou nodig om 'n verskil te maak. Kom stap saam met ons hierdie pad en gebruik jou talente om hoop te bring. Saam kan ons mense ophef en 'n blywende verskil in ons gemeenskap maak.!
Kontakbesonderhede
📞 Ella Pieterse: 082 406 3655
James W. Verrall – Ondervoorsitter
James W. Verrall dien as ondervoorsitter van Solidariteit Helpende Hand Kempton Park-tak en ondersteun die voorsitter met groot toewyding en entoesiasme. Hy speel 'n belangrike rol in die beplanning en uitvoering van projekte en is altyd bereid om prakties te help waar nodig. Sy betroubaarheid, diensbare gesindheid en sterk spanwerk maak hom 'n waardevolle steunpilaar vir die tak. James leef Helpende Hand se waardes uit en dra daagliks by tot 'n sterker gemeenskap.
James geniet die buitelewe en is iemand wat graag aktief bly. Hy is lief vir sport, veral gholf en rolbal, en is ook werksaam by 'n prokureursfirma. Hy glo daarin om 'n gebalanseerde lewe te lei waarin werk, ontspanning en diens aan die gemeenskap hand aan hand gaan.
Sy betrokkenheid by Solidariteit Helpende Hand spruit uit sy liefde vir senior burgers. Hy het 'n diep begeerte om bejaardes op te hef, hulle te ondersteun en hulle te laat ervaar dat hulle steeds waardevol is. Vir hom is dit 'n voorreg om 'n verskil te maak in die lewens van mense wat dikwels eensaam of weerloos voel.
Vir James beteken gemeenskapsdiens om die waardering en dankbaarheid op mense se gesigte te sien wanneer hulle hulp ontvang. Veral die glimlag van 'n bejaarde wat weet iemand gee om, is vir hom 'n groot beloning en 'n herinnering dat selfs klein dade 'n groot impak kan hê.
Een van die projekte wat hom besonder trots maak, is die prostaatkanker-bewusmakingsprojek. Die spontane terugvoer en openhartige gesprekke wat daaruit voortspruit, wys hom hoe belangrik dit is om nie net fisiese hulp te bied nie, maar ook mense met inligting, ondersteuning en hoop toe te rus.
Volgens James is die Kempton Park-tak se grootste krag die netwerk van mense en organisasies wat saamwerk om projekte moontlik te maak. Hierdie samewerking stel die tak in staat om 'n groter verskil in die gemeenskap te maak.
Sy boodskap aan voornemende vrywilligers is eenvoudig: Gemeenskapsdiens verg harde werk. Jy sal uitdagende situasies teëkom, maar moet nooit moed opgee nie. Jy kan werklik 'n verskil maak in iemand se lewe. Dit is goed vir die siel, en die Here sal jou altyd die krag gee om aan te hou.
Kontakbesonderhede
📞 James W. Verrall: 079 493 9067
Oos-Rand-streek- en tak-projekte
Word deel van die Solidariteit Helpende Hand familie
Kalender
Skenk by jou naaste Ons Winkel